Die reg en plig om regeringsgesag te weerstaan

Friedensnobelpreisträger aus Südafrika: Albert Luthuli [1960], Desmond Tutu [1984] Frederik Willem de Klerk und Nelson Mandela [1993]Friedensnobelpreisträger aus Südafrika: Albert Luthuli [1960], Desmond Tutu [1984] Frederik Willem de Klerk und Nelson Mandela [1993]

*

Brian Brown; Theo Kotze; Roelf Meyer; Beyers Naudé; Jane Oshadi Phakathi (1973):

Die reg en plig

om onchristelike regeringsgesag

in Christus se naam te weerstaan ©

– “Kommissie van ondersoek na sekere organisasies [Schlebusch Kommissie]” 1973 –

Die gelowige in Christus het nie net die reg nie, maar hy het die verantwoordelikheid om God en sy reg meer gehoorsaam te wees as die regering, indien die regering van God se reg afwyk. Het die Christen nie die verantwoordelikheid om nié met die regering in ’n saak wat met die Evangelie in stryd is, saam te werk nie? Kan hy nie só positief vir Christus en sy geregtigheid getuig nie?

Siviele ongehoorsaamheid is ’n daad van protes op Christelike gewetensgronde vir die Christen. Dit is alleenlik veroorloof as die owerheid ’n onchristelike aksie van hom verwag en pleidooie tot terugkeer na die Evangelie nie help nie. “Die reg van passiewe weerstand, dit wil sê, van lydelike verset, kan alleen toegepas word as dit blyk dat geen van die ander metodes die noodsituasie oorwin en die reg herstel kan word nie” (Die stryd om die ordes, prof. H.G. Stoker, p. 243). Die staat en sy kommissie* het wel gesag teenoor die burgers, maar die individu het in ’n sedeike sin ’n eie reg teenoor die staat. Vir sover die landsburger deel van die staatstruktuur is, is hy aan staatsgesag onderworpe; as ’n persoonlikheid voor God, ook in die statstruktuur, is hy egter absoluut aan God gebonde. “In die laaste instansie mag die staatsmag die Christen nie bind nie, omdat dit nie die finale heerskappy van God is nie en daarom tot die wese van die historiese wêreld wat vergaan, behoort” (Glaube in politischer Entscheidung, dr. A. Rich, p. 161). Nooit behoort die mens volkome aan die staat nie, want die mens mag nie tot werktuig van die staat verlaag word nie omdat die staat daar ter wille van die mens is, en die die mens ter wille van die staat nie.

Is dit nie miskien so dat die magte wat die regering aan dié kommissie toegeken het en die gevolge wat daaruit kan voortvloei, ’n totalitaristiese trek openbaar nie? Die totalitaristiese staat will gewoonlik die onderdaan volkome beheer. “Sy konflik met die Kerk is wat die onvoorwaardelike noodsaaklikheid van sy innerlike selfstandigheid ken. Not veel meer as die uiterlike selfstndigheid van die Kerk, kan hy die innerlike selfstandigheid nie duld nie, omdat hy die siel van die mens wil hê.  Juis die siel wil hy beheer en na sy beeld vorm” (Gerechtigheid, prof. E. Brunner, p. 216).

Daar moet onthou word dat in ’n demokratiese staat die belangrikste saak vir die burgers nie blinde gehoorsaamheid en slaafse onderdanigheid aan die regering is nie, maar medeverantwoordelikheid vir staatsbelange voor God se aangesig. “Die demokrasie strewe daarna dat die vryheid in die handhawing van medeverantwoordelikheid tot uitwerking kom” (Wessler, a.w., p. 142). So ook Wolfgang Trillhaas: “Dienooreenkomstig is ook gehoorsaamheid nie meer die oorheersende probleem vn die staatsburger nie. Dit is veel meer die verantwoordelikheid of medeverantwoordelikheid vir die sukses van die staat in die staatkundige lewe” (Ethik, p. 373)

Daarby moet ook onthou word wat Reinhold Niebur gesê het oor die Christelike motivering van die demokrasie, nl. dat die menslike strewe na geregtigheid die demokrasie moontlik maak, maar dat die menslike neiging tot ongeregtigheid die demokrasie noodsaaklik maak.

Kan dit nie miskien wees nie dat die regering met hierdie tipe optrede trekke vn ’n fascistiese regering openbaar, waar so ’n regering die onderdane nie meer dien nie, maar oor hulle heers? Die niging van só ’n regering is dan om deur arbitrêre dwang en magsoorheersing te regeer, en heerskappy word primêr ’n magsorganisasie. Die logiese eindpunt van só ’n regering, indien hy voluit so voortgaan, is dat hy afgodies word omdat alles uit, deur en tot die nasionale staat moet wees (vgl. Openbaring 13). Die taak vn die regering is om die onafhanklike reg van God wat deur die Evangelie geopenbaar is, vir die land in wette vas te lê, maar nie om ’n eiemagtige reg te probeer skep nie. ’n Regering met fascistiese neigings skep egter sy eie “reg” wat hy met straf afdwing. Alles wat teen die wil of beeld van so ’n regering is, word dan as staatsgevaarlik of subversief beskou. Vryheid word beskou as ’n toegewing van die regering en die die normale lewenswyse nie. Hier moet die regering en ook die kommisie* hom voor God verantwoord oor die inperkings en ook die moontlike straf wat kan volg vir dié wat op gewetensgronde weier om getuienis af te lê.

Die mag en regering van só ’n staat is nie net territoriaal en militêr nie, maar ook sedelik. Gevolglik moet alles aan die outoritêre, kooperatiewe staat onderwerp word – niks val buite sy mag en gesag nie en hy bepaal die norme, ook vir die gewete. ’n Mens kan gevolglik jou gewete verkrag, konformeer en die aan die staat offer. “Hierde offer van die gewete is des te gevaarliker hoe gevoeliger sodanige gewete is en hoe duideliker dit volgens Gods wil ingestel is. Hy wat in stryd met sy beterwete en gewete aan die mens meer gehoorsaam is as aan God, vernietig die integriteit van sy wese, die eenheid met homself en val vroeer of later ten prooi vn skisofrenie” (Freiheit und Bindung des Christens in der Politik, T. Ellwyn, p. 27).

In so ’n tipe staat is die hoofsaak waarom die uiteindelik gaan, nieof die regering reg óf verkeerd, goed óf sleg is nie, maar of sy staatsorde, beleid en wil slaag of nie.

As die huidige regering, ook d.m.v. dié kommissie*, bogenoemde trekke openbaar, moet hy nie na die Evangelie van Christus teruggeroep word nie? As ons ook skuldig is, geld dieselfde ook vor ons. As so ’n oproep egter nie slaag nie, “… word dit ’n gval van botsing van die godsdienstige geloof met die owerheid, ’n botsing waarin die mens God meer gehoorsaam mot wees as die menslike gesagdraer …” (prof. H.G. Stoker, a.w., p. 243). Die gelowige kan egter alleenlik extra legem handel en weier om saam te werk as hy volgens Gods reg optree wat deur die owerheid verkrag word. “Sonder magtiging behoort niemand vir homself ’n ‘reg’ tot verset teen die owerheid aan te matig nie. Hierdie magtiging behoort, volgens my mening, die verantwoordelikheid tot verset in te sliut en dit behoort in die Hoer Reg in wie se naam jy optree, ingesluit te wees” (W. Trillhaas, a.w., p. 373).

As Romeine 13:1 sê: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is …”, moet daar onthou word dt die regering nie sonder meer gesag en mag het omdat hy die regering as sodanig is nie, maar omdat hy ‘n “dienaar van God” (vers 4) ist. “Die probleem van die reg tot verset … is inderdaad selfs in Rom. 13 opgesluit … ons behoort te oorweeg of die wenig by ‘dienaar van God’ nie juis die reg tot verset insuit as die owerheid sy Godgegewe opdrag oorskry en hom teen die duidelik uitgesproke gebooie van God wend nie” (W. Schulze aangehaal in Politik zwischwen Dämon und Gott, dr. W. Kunneth, p. 301). Hy is alleenlik ’n legitieme owerheid as hy nie in stry met God se wil optree nie.

Dieselfde gedagte is soos volg in die Christelike Instituut-studies van 1973 uitgespel: “… the concept of the government of a country as a creation and order of God in itself, is false and a government always stands under the righteousness of the Gospel. ‘It is exegetically no longer possible to base obedience to governments on some peculiar character in them’ (H.W. Bartsch).

“1 Peter 2:13 ‘Be submitted to every human ordinance because of the Lord’ must be correctly translated as ‘Be subject to everyone (every human creature) for the Lord’s sake’ (H.W. Bartsch).

“The words in Romans 13, ‘The government is ordained by God’ and ‘they are servants (ministers) of God’, do not refer to a peculiar commission or dignity of the government but to what it in fact is, whether it accepts Romans 13 or not. God did not give a special commission to the government as such. The trend, therefore, is to debunk the false concept of governments” (Poverty in abundance or abundance in poverty?, Roelf Meyer, p. 13).

Waar sodanige akwyking van die Evangelie geskied, is dit gevolglik nie net die reg van die Christen tot verset teen die gesag vandie regering nie, maar die plig tot passiewe verset wat gehoorsaamheit aan die Evangelie, hoewel ongehoorsaamheid aan die regering, beteken. As ‘n regereing die Evangelie verkrag, verloor hy sy gesag om gehoorsam te word in sy amp as regeerder. “Deur sy teenstrydige houding tot God verloor die heerser sy wesenlike amp” (W. Kunneth, a.w., p. 294). En: “In uitbreiding van hierdie gedagtes kan dit hom (die oderdaan) onder omstandighede die reg, selfs die plig opgelê word om homself te verset teen die tiran wat ‘n daad van geweld teenoor ‘n privaat persoon pleeg deur misbruik van sy amp te maak” (W. Kunneth, a.w., p. 295).

Daaromkan van ‘n owerheid en sy gesag gepraat word net “… solank daar sprake is dat dit die voorneme en die vaardigheid besit om vir reg en geregtigheid verantwoordelikheid te aanvaar: As hierdie funksie van die owerheid egter verwring word dan het die owerheid homself ontbind, is sy outoriteit niemeer afkomsitg van God nie, is hy gewoonweg strydig met God. As gevolg daarvan is die Christen volgens Rom. 13 nie meer gehooraamheid aan die skuldige (owerheid) verskuldig nie, maar veel meer verplig tot verset teen so ‘n owerheid wat ontaard het” (W. Kunneth, a.w., p. 301).

Ook die Calvinis John Knox bepleit dieselfde gedagte. In sy “… conversations with Queen Mary he had declared not only the right of the nobility to resist in defence of the people but the right of the subject to disobey where the ruler contravenes the law of God” (Calvinism and the political order, G.L. Hunt, p. 14). Calavyn het dieselfde waarheid in kras taal bepleit: “Want aards prinse verbeur al hulle mag wanneer hulle teen God in opstand kom … Ons behoort hulle eerder te weerstaan as omhulle te gehoorsaam …” (Lesing XIII).

Daarmee word die regering en staatsgesat in die algemeen nie as sodanig verwerp nie, maar steeds gehndhaaf omdat hy steeds de facto die regering is, als wyk hy op wesenlike punkte van die Evangelie af waar hy weerstaan moet word. “Ook ‘n verwronge staatsordening behou nog altyd reste en elemente van die stabiele orde van God” (W. Kunneth, a.w., p. 302).

So ‘n stap om die regering nie te gehoorsaam nie, moet op grond van die Christelike gewete gedoen word. Die Christen se gewete is daardie Godgegewe vermöe om te onderskei wat reg of verkeerd volgens die evangeliese maatstaf is en wat jou dan innerlik verplig om die regte weg te volg. “… gewete het dan ook die merkwaardige konsekwensie dat in die gewete meteens die hefboom van verset teen die owerheid kan lê; ‘n innerlike pyn kan hom naamlik ook laat geld wanneer ‘n mens jou deur die owerheid laat dwin tot dade waarvan ‘n mens weet dat dit verkeerd is. In Romeine 9:1-2 is ‘n dergelike pyn by Paulus duidelik aanwesig” (Christelijke Encyclopedie Deel 3, prof. H. Schippers, p. 218). Die gewete is die innerlike wil om jou te wil verantwoord teenoor die bewuste norme, en die Christelike gewete is aan die Evangelie gebonde.

As die regering van die Evangelie afwyk, is die Christen gevolglik deur sy eie gewete gebonde om hom teen te staan. Al word dieawet daarmee oortree, moet dit gedoen word omdat God se wil bo die menslike wet gehandhaaf mot word (Hand. 4). Die regering is ‘n dienskneg van God wat beteken dat hy hom nie arbitrêr bo die reg kan verhef sonder om hom aan die hoogste gesag te vergryp nie. Dan word hy “die kwaaddoener” (Rom. 13) wat weerstaan moet word in gehoorsaamheit aan God.

Pretoria, 24 September 1973

Brian Brown; Theo Kotze; Roelf Meyer; Beyers Naudé; Jane Oshadi Phakathi.

–          –          –          –         –

© Beyers Naudé: Gehoorsaamheid – aan wie? Preek. Beyers Naudé Argiewe, Stellenbosch 1960b; Die profetiese roeping van die kerk in hierdie tyd. Beyers Naudé Argiewe, Stellenbosch 1961; My Land van Hoop. Die Lewe van Beyers Naudé. Johannesburg 1995, 175-179.

*Die “Kommissie van ondersoek na sekere organisasies [Schlebusch Kommissie]” 1973.

>> Seminar: Resistance and Objection in Confessing for Justice

Kein Kommentar zu diesem Artikel bisher »

Kommentieren

Erlaubtes XHTML: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>